Sy het haarself ons Outan gedoop

Annelize Harmse was ‘n dogter, suster, tannie, onderwyser, Outan, vriendin, biegmoeder, vertroueling. Vir baie was sy meer as een van hierdie; vir die meeste van ons was sy soveel meer.


Om haar in n paar reëls te omskryf is eintlik ‘n onbegonne taak. Sy was van altyd af daar. Die invloed wat sy op so baie mense se lewens gehad het, is net te verreikend: haar familie, vriende, leerders. Sy was altyd daar. Haar liefde vir haar familie was die gom wat ons nog altyd aanmekaar gehou het.

Sy het geluister, gepraat, vertel, uitgevra, belanggestel, geskryf, laat lag, saam gelag en saam gehuil. Sy het kennis gedeel en raad gegee. Annelize het gehelp om ons te vorm en te bou. En nie net die familie nie; almal wat haar geken het sal saamstem oor haar invloed op hul lewens.


En nooit sou sy oordeel nie. Haar onwrikbare geloof en sin vir reg en verkeerd het almal van ons al twee maal laat dink.

Haar soeke na antwoorde op vrae wat die meeste van ons te bang is om te vra, het haar, in haar stil tye, op vele reise geneem.


Maar sy was ook sentimenteel; jare se briefies, foto’s, sêgoed en herinneringe is gebêre tussen haar elke-dag-se-goed, omdat dit so deel van haar was.
En tog was sy intens privaat. Baie van haar veldslae (en daar was ‘n hele paar) het sy alleen geveg. Sy was sterk, onafhanklik. Sy sou nooit voor onreg die knie buig nie.

Haar hele lewe lank het sy soveel van haarself gegee, meer as wat sy ooit gevra het. Ons het gedink dat sy maar altyd daar sou wees.
En sy sal wees, want Annelize is onuitwisbaar op ons menswees geëts.