Om 'n neurodiverse kind groot te maak

Vir baie van ons is elke dag ‘n stryd. Dis nie noodwendig ‘n slagveld nie, maar dit laat ons uitgeput, gefrustreerd en emosioneel. Ons wil net ons bes doen. Soms is dit genoeg en ander kere skiet ons ver te kort. Veral as dit by ons kinders kom. Ons ken hulle so goed. Ons hou hulle dop soos hul grootword en ontwikkel. Ons doen regtigwaar ons bes.

Dis oorweldigend om uit te vind jou kind is neurodivers. Neurodiversiteit is ‘n omvattende term, maar in kort is dit bloot die erkenning dat geen twee mense se brein op dieselfde manier werk nie, en dat elke manier van dink en doen net so waardevol en belangrik soos die volgende is. ADHD, outisme en disleksie is maar net drie van baie toestande wat onder neurodiversiteit val.

Miskien het jy klein verskille begin raaksien: tussen jou kind en die sibbes, of die maats. Daar was dalk ontwikkelingsmylpale waarmee jou kind gesukkel het. Praat, loop, krale ryg, al die dinge waarop so baie kundiges klem lê. Of jou kind kon dalk nie maats maak nie, en die vloermoere was uit die bose (by wyse van spreke, natuurlik).

Die uitslae…

My kind is na ‘n gesonde swangerskap gebore toe ek 41 jaar oud was. As ‘ouer mamma’ was ‘n keisersnee die veiliger opsie. Hy was vir n rukkie ‘n bietjie maer, want ek het met borsvoeding gesukkel. Nadat hy begin bottel drink het, het daai wangetjies egter vinnig uitgepof.

Hy was pragtig. Hy kon als doen wat die boeke sê, was vrolik, soet en gesond. Hy het wel sy speelgoed in rye gepak, karretjies netjies langs mekaar parkeer en ek het gedink dat ek nooit sal nodig hê om hom sy kamer op te ruim nie.

Kleuterskool toe. ‘n Paar weke nadat hy begin het, stel sy juffrou voor dat geevalueer word en met spraakterapie begin. Hoe dan nou? Ek het nie besef dat sy spraak nie soos ander maatjies van sy ouderdom ontwikkel is nie. Hy is ons enigste kind en daar is niemand van wie ons kan notas neem nie. Buitendien, ek en Pappa verstaan hom dan. Nou maar goed. Spraakterapie vir amper 2 jaar. Buiten vir een juffrou by die kleuterskool wat my kind wild noem, is daar geen klagtes oor sy gedrag nie. Inteendeel, hy is ‘n gewilde seuntjie.

Gr R begin goed. Die Covid-inperking is so te sê verby, al is dinge nog baie deurmekaar. Maar dis toe hier waar die bus se wiele in die verkeerde rigting begin draai. Juffrou stel arbeidsterapie voor om die paar uitvalle aan te spreek.

Gr 1 en ek word ten minste twee keer per kwartaal deur die juffrou ontbied. Geen gedragsprobleme nie, maar my kind sukkel met lees en skryf. Juffrou stel voor dat ons ‘n evaluering by die skoolsielkundige laat doen en sommer toets vir disleksie. Hy is toe maar net 6 jaar oud, te jonk vir ‘n diagnose. Na die toetse blyk daar wel ‘n sterk moontlikheid van disleksie te wees.

Pediatriese neuroloog. EEG. Tekens van epilepsie, maar nie genoeg om oor te kommer nie. Medikasie vir ADHD. Arbeidsterapie gaan nog aan. Ons is reg vir wat voorlê.

Gr 2 is redelik moeiteloos. Ek besing die meds se lof by almal wat wil of nie wil hoor nie. Rapporte lyk goed. Beloftes van ‘n Xbox dra by tot ‘n suksesvolle jaar.

Gr 3. My kind word groot. Klaar met terapie. Geniet naskool en huiswerk lyk mooi. Die eerste ouervergadering met sy juffrou laat my moed egter weer sak. Hy werk stadig, dagdroom en sukkel met spelling en sinskonstruksie. Darem is hy ‘n stil en gehoorsame seun. Maar toetse moet weer gedoen word. Hy is oud genoeg om gediagnoseer te word, en as dit regtig disleksie is, kan ons darem voor die hoër grade werk maak hiervan.

O, die skuldgevoelens! 

En daar sit ons skielik weer met al die emosies wat ons in sy Gr R-jaar beleef het. Die hartseer, die kommer oor sy toekoms, die selfverwyt, die vrae, en bowenal die skuldgevoelens. Waar het ons foute gemaak? Het ek hom as baba te veel piesangs gevoer? Ek moes langer geborsvoed het. Ek moes dit gedoen het, en dat raakgesien het. Wie se skuld is dit?

Onthou dat neurodiversiteit niks met ouerkeuses te doen het nie. Hou op skuldig voel en ondersteun jou kind.

Dis ‘n tsoenami van emosie wat jou as ouer in daardie tyd oorval. Jy dink terug en onthou klein dingetjies, tekens, wat nou sin maak. En dan van vooraf die skuldgevoel. En as jy daai golf toelaat om jou plat te vee, is dit swaar om op te staan.

Die frustrasies

Na die aanvanklike slag begin die werklikheid inskop. Jy moet weer alle artikels opspoor en lees. Nuwe hulpmiddels navors.

As jy egter mooi daaraan dink, gaan die lewe net aan, maar jy het nou net meer insig en kennis. Ja, daar sal nog elke dag die gewone struwelinge wees: staan op, trek aan, gaan borsel jou tande (oor en oor as jy ‘n seun het), ek wag solank in die kar. Jy gaan steeds moeg en gefrustreerd wees, want daar is dinge om in plek te kry sodat jou kind nou optimaal kan funksioneer en ontwikkel.

Om ‘n neurodiverse kind groot te maak, kan geweldig frustrerend wees. Dalk sukkel jou kind om te kommunikeer of om maats te maak by die skool. Dit kan lei tot uitdagende gedrag en meltdowns. Jy moet verstaan dat hierdie gedrag spruit uit jou kind se neurologiese verskille: dis nie opsetlik nie. beoefen geduld en leer maniere van doen wat jou en jou kind sal help. En gee jouself ‘n blaaskans. As jy kalmer optree, sal jou kind ook kalmer wees en makliker die uitdagings oorkom.

Suksesse!

Vier jou kind se suksesse, al is dit hoe klein. Hoe jy hierdie aspek van die uitdaging aanpak, sal so ‘n groot impak op jou kind se ontwikkeling en selfvertroue hê. Koester dit. Onthou egter dat jou kind se groot oomblikke anders gaan lyk as ‘n klasmaat s’n, byvoorbeeld. Fokus op jou kind se groei en moet nooit vergelykings tref nie.

Uniekheid

Daar is geen ander kind soos jou kind nie. Neurodiverse kinders (en grootmense) het dikwels uitsonderlike talente en perspektiewe wat almal rondom hul kan aanvuur. Bemoedig jou kind om sy belangstellings te volg, en help hulle om hul sterkpunte tot die beste te ontwikkel. Leer hulle om hul andersheid te aanvaar en trots te wees daarop. 

‘n Veilige vesting

Dink aan hoe belangrik jou huislike omgewing vir jou as volwassene is. Hoe dikwels smeek jy nie vir rus en vrede nie? Vir jou neurodiverse kind is dit dieselfde. Jou kind spandeer die hele dag by die skool waar daar in rye gesit en gestaan word, waar hulle moet stil wees en fokus, hul nie mag terugpraat en ook nie kan se wat in hul gedagtes opkom nie. Met ander woorde: hulle moet hul beste gedrag uithaal en wys. Hoe voel jy na ‘n uurlange vergadering waar jy jou beste voet moet voorsit? Dis uitmergelend. Vergelyk dit nou met die besige brein van jou kind. Skep ‘n kalm omgewing tuis.

Verstaan as jou kind uithaak die oomblik dat hy tuiskom. Dit gaan nie oor jou nie. Alhoewel roetine en skedules belangrik is, gee jou kind ‘n bietjie ruimte. Help hom ontspan om sodoende enige oorblywende spanning van die skooldag te verwerk. Praat met hom. Bied hom daardie veilige omgewing wat hy nodig het en help hom om verwagtinge en oorweldigende emosies te beheer.

Onafhanklikheid

Neurodiverse kinders, soos myne, sukkel dikwels om te kommunikeer omdat hulle skaam en stil kinders is. Al praat hy my ore van my kop af oor sokker of ‘n XBox game of snaakse videos, sukkel hy om sy behoeftes te verwoord. Gelukkig het ek vandat hy baie klein was, geselstye ingestel. Dan sit ons iewers en vra mekaar vrae oor alles en nog wat. Gewoonlik lei dit tot ‘n dieper geselsie waar hy dan vir my vertel wat als die dag gebeur het, of wat hom pla. Ek is ook baie trots op hom dat hy weet waarvan hy hou en nie hou nie. Dit pla hom nie dat hy dat die enigste een in sy klas is wat mal is oor sokker en niks van rugby hou nie.

Ja, hy is nou maar eers 8 jaar oud. Dit mag nog verander. Maar ek maak ‘n punt daarvan om hom aan te moedig om nie verskonend te wees as hy nie met iemand saamstem nie, dat almal verskillend is en dat respek daarvoor baie belangrik is. Al sukkel hy nog om sy veters vas te maak, glo ek dat hierdie filosofie hom onafhanklikheid leer.

Hy is wie hy is

Jou kind dink anders en doen anders. Aanvaar dit. Omhels dit. Vier dit.

Hulle is nie stukkend nie en daarom kan jy hulle nie regmaak nie.

Verstaan en ondersteun jou kind se unieke behoeftes. Hy sal nog sy plekkie in die wêreld vind.

Intussen is jou kind se plek by jou. Al is die uitdagings groot en die belonings nie altyd voor die hand liggend nie, wees jy sy veilige toevlug.

Die wêreld het hierdie kinders nodig. Dit is jou plig, en voorreg, om hulle gereed te maak om hul plek vol te staan.

Gee hulle jou geduld, begrip, jou uithou en aanhou, maar bowenal jou liefde.