Vreemdeling

 

Te lank al talm dit in my warm aarde,
die toontrap duidelik in die vorm van ‘n naamwoord.
Voor jou naam ‘n woord geword het
was dit eie aan ‘n ander aarde –
joune en nie myne nie, maar
Hy het beplan dat jy sou wegbreek
en oor reekse berge my binneland in;
Crux lê laag in die donker blinding se suidelike sy
en jou kaal voete skryf spore in die stof –
hierdie aarde van my se droë rooi, stof.
Laatmiddag kom die kuddes huis toe,
onbewus van die gewld van een naam wat binne my bloei
soos lawa, diep gebêre en gebonde aan
‘n kern van sluimerende sinne
wat wag
op die roering muisbos of mannagras.

Vreemdeling,
Vergewe my die ydelike gebruik van jou lewe langs myne,
al leef ek skaars hoorbaar op dié klein akker van afwagting
op jou naam, my voorwoord en epiloog.