Nagenoeg ontelbaar kere al is ek op die agterpad koplangs betrap, noordnoordoos vanwaar ek nou, onder ‘n glipselmaan, te bang is om die slaap af te skud. Om my lyf te roer is om jou te verloor. Ek voel die woorde wat my oë laat ronddryf, wat my wakker maak, maar geluide maak nie meer saak nie. Dis tog nou so stil – ‘n vol stilte in ‘n bondel voor die sydeur, ‘n houtdeur vol stil oë wat dobber, al het die wind gaan lê.
Wanneer die klokke sondags lui die bult uit beier vergader al my geeste om jou oop graf.