Die sifdeur slaan hard agter hom toe. Met ‘n sagte vloek trek hy sy skouers in asof dit die klank sal demp. As die kind geslaap het is hy nou wakker. Hy hang sy sleutels aan die die spyker agter die deur, anders verlê hy dit weer. Dink kom nie aldag lekker straight nie.
Die sitkamer is deurmekaar. Sy broer se goed lê die hele plek vol. Wens die outjie wil rigting kry. Daar’s baie jobs op die myne maar die kind wil mos nie ‘n appie wees nie. Glo dead-end en benede hom. Nou doen hy sweet blou boggerol. In my huis nogal. Hy onthou vaagweg ‘n sê-ding oor familie, maak die woorde ontgaan hom.
Hy gooi sy oor ganglangs. Hy hoor niks nie. Frankie kuier seker by die antie langsaan terwyl die kind slaap. Hy hou nie van die gekuiery nie. Vroumense praat te maklik en hy wil nie hê daar moet oor hom en sy besigheid gepraat word nie, want dan word daar boonop gekyk en hy soek nie dat mense na hom moet kyk nie.
Die agterdeur staan wawyd oop. Niemand sal dit egter in sy jaart waag nie. Sy pit bull is ‘n wakker een. Terwyl die vrou weg is kan hy gou ‘n pypie in die back room gaan maak. Die laaitie word vinnig groot en sal een van die dae begin vra wat sy pa dan so alewig in die back room maak.
Vir eers is dit nog my kingdom. Syne alleen. Soms kon die pelle oor met ‘n kas of twee bier. Dan sit die ouens en pyp en praat. Diep dinge. Veral ou Dif. G’n gewone mechanic daai nie. Hy kyk annerster na goed. Droom oor sy eie TV show. Oor karre en engins, of course. Seker die slimste ou wat ek ken, so who knows.
Die buitekamer het ‘n lae venstertjie en geen gordyne nie. Ná die pyp sak hy terug op die matras en kyk na buite. Hy’s ‘n lucky ou – steady job op die myn, sy vrou is goed vir hom en sy was so mooi toe hy haar getrou het. En my laaitie is ougat. Nogal clever ook. Kan al amper praat. Hoe oud is hy nou weer? Nevermind. Clever, sê ek.
Die huis hier in extension 2 is nou nie sy eie nie, maar eendag. Anderdag by die pawn shop het hy so ‘n mooi room divider gesien. Frankie weet nie dat hy al die eerste lay-by instalment neergesit het nie. Dis ‘n surprise. Sy verjaar mos een van die dae. Of is dit sy ma wat verjaar? Nevermind. Hy wil Frankie anyway surprise. Dan sal die sitkamer grand lyk en sy sal nie skaam wees as die skofbaas miskien by die huis inval nie.
Hy like dit om nice goed vir mense te doen. Om hulle te sien smile maak hom happy. En Frankie sal smile. Nie soos die vrou in die shop vroeër vandag nie.
Hy wil eintlik nie daaraan dink nie, maar die gedagte ken nie keer nie. Hy’t gou by die Friendly ingedraf om sigarette te koop vir sy skof later vanaand. Hy’t haar tussen die aisles gespot. ‘n Mooi vrou. Met ‘n skoon gesig en sulke oë soos in die makeup ads op TV. Jeans wat net reg sit en ‘n losserige trui. Seker ‘n duur een van Edgars. Maar hy weet nie regtig nie want hy koop nooit by Edgars nie. Die vrou is nie van hier nie. Sy lyk half lost. By die till het hy agter haar gestaan. Haar hande was vol met pakke chips en koeldrank en sweets. Seker padkos. Of ‘n party. Hy het haar onderlangs dopgehou, want sy was vir hom mooi. En sy het lekker geruik. Blomme of iets. Die girl by die check-out wou nog weet of sy n plastieksak wil hê, toe is sy al by die deur uit. Asof sy net moes wegkom.
Hy het nie doelbewus agter haar aangeloop nie. Ek het ‘n vrou en sy kan ook soms nog opdoll. Maar haar kar was langs syne geparkeer. Hulle kom toe so saam-saam by die karre aan – hy met sy sigarette en sy met handevol lekker eetgoed. En net daar laat sy haar karsleutels val. Ek like nie as mense sukkel nie. Met ‘n genuine behoefte om te help het hy na haar gestap. Om haar sleutels op te tel. Om te help. Om verdomp net te help. Smaak my jy moes maar ‘n carrier bag gevat het, of hoe? Hy het die sleutels na haar uitgehou. Sy het dit vinnig by hom gevat. Sy het niks gesê nie. Nie eers dankie nie. Maar sy het na my gekyk. En haar oë was nie meer mooi soos in die ads nie.
Vir die eerste keer in donkeys onthou hy hoe sy dad een aand, nog in hulle garage, oor ons-en-hulle gemoan het. Hy kan nie alles onthou wat sy dad gese het nie, maar dit was iets oor ons hier en hulle daar. Soos pit bulls en poedels. Hulle mix nie. Dad het gemeen dat óns die pit bulls en húlle die poedels is. Maar dit wat hy op daardie oomblik in haar oë gesien het, het hom soos die vuilste, mankste basterbrak laat voel. Een wat nie ‘n hond se gat werd is nie. Dit het hy gesien en as sy dan nog iets sou sê, sou dit soos ‘n skop in die ribbes wees. Dis hoe haar stem my sou laat voel het. Hy het in elk geval maar probeer smile, maar dit was seer êrens binne-in hom. Hy het omgedraai en in sy kar geklim sonder om te kyk hoe die vrou sukkel om die kardeur oop te sluit. Laat haar sukkel. En dit met handevol sweets nogal.
Sy hoef nie só na my te gekyk het nie. Hy’s ‘n man wat sorg vir sy vrou en sy kind. En sy broer wat heeldag niks doen nie. Ek provide, man. Het n ‘n steady job, ‘n kar wat ry en someday soon daai room divider. Dis oor die lewe so tough kan wees dat ek soos ‘n oom lyk, al is ek net thirty five. Dis oor ek weet van sukkel, van graft, dat my hande so vuil en grof is, al skrop Frankie dit elke aand vir my. Frankie. Hy wil dadelik huis toe sodat sy Frankie na hom kan kyk en vir hom sweetheart sê. Hy het die kar gestart. Ek is niemand se hond nie, nie eers ‘n pittie of ‘n rottweiler nie. Ek is ‘n bleddie mens, man! En hy het huis toe gery.
Nou sit hy in die buitekamer ná sy pypie en is eintlik bly dat sy vrou nog langsaan kuier, dat sy nie hier is om sy oë te sien pyn en sy hande te voel bewe nie. Hier kan hy nou alleen sit en dink en vir eers vergeet van die vrou in die shop. Net-nou sal Frankie roep tea-time soos haar Engelse ma destyds gedoen het. Hy sal ingaan en sy vrou soen en sy laaitie optel en hulle sal saam supper eet. Hy sal happy wees want hy sal onthou wat hy het. Dat hy ‘n man en ‘n pa is. Hy sal ook onthou dat hy ‘n mens is, al skyn die son somewhat anders oor die lot aan hierdie kant van die lewe se draad.
Intrepidly,