Dis laatmiddag wanneer ek uit die grootpad draai. Die naambord is so verweer dat ek dit nie kan lees nie. 8km. Grondpad.
Na wat soos ure voel, hou ek stil. Sommer in die middel van die pad. Met my oë toe leun ek teen die ruit aan. Wat doen ek hier? Vrou-alleen op ‘n stofpad op pad na êrens in die middel van nêrens; die romanse daarvan, die avontuur. Dis egter die ontnugtering hiervan wat my die enjin laat aanskakel en verder ry.
Ek kyk skaars om my rond. Daar is in elk geval niks om te sien nie. ‘n Paar kilometer verder raak die pad meer egalig. Die stilte ná die gerammel veroorsaak dat ek nie agterkom hoe die pad ‘n draai maak en tussen twee hoogtes verdwyn nie. Vir ‘n oomblik is dit donker. Dan deur ˈn driffie. Uit. Op. Nog ‘n lui draai en dan sien ek die populierbome wat met geel vingers hemel toe wys. My oë volg, maar net lank genoeg om ‘n paar yl wolke in die halflig waar te neem.
Ek is moeg. Van die lang pad en van die baie dink. Van alles. Ek wonder of hier slaapplek iewers is. Is hier ooit nog ‘n dorp? Ek ry stadiger. Die pad wat die dorp in lei is ook ongeteer, maar plek-plek is daar nog stroke sement oor. Verby die eerste huise begin ek uitkyk vir iets wat na ‘n gastehuis lyk, of ‘n restaurant, of iets. Ek sien niks nie, net die verwese woonhuise wat ver uitmekaar staan, so asof hulle nie lus het vir geselskap nie.
Dis sterk skemer. Die deure en vensters is almal dig toe. Dis amper winter. By die gedagte aan nog ‘n winter, kruip koue skielik oor my vel en so in die ry trek ek ‘n trui aan.
Eindelik beland ek in wat wil-wil lyk soos n straat in ‘n dorp; nêrens is ‘n siel te bespeur nie. By ‘n kuising draai ek instinktief links en ry ‘n ent verder. Hier lyk die huise ook almal eenders. Die tuine ook. Steeds geen teken van lewe nie, behalwe klein vierkante lig vanuit die huise. Dan is dit asof die dorp sommer net eindig.
Met ‘n sug draai ek die motor om en sien die groot olienhoutboom in die tuin voor my. Die wind moes opgekom het, want die blare roer soos silwer handjies wat waai; hande wat my nader roep. Die trane kom vanself. Ongevraagd. Stil. Die enjin vrek en net daar sit ek en ek huil, maar nie vir lank nie. Ek huil nooit lank nie.
Wanneer ek opkyk, sien ek ‘n vrou by die hekkie onder die boom staan, net ˈn entjie van die kar af. Ek vee die trane weg, klim uit en stap nader. Met ‘n glimlag maak sy die hekkie oop. As ek by haar kom, draai sy om en stap met die paadjie langs na die voordeur. Halfpad draai sy effens terug en ek besef dat sy wil hê ek moet haar volg.
Die vrou nooi my binne. Die gang is donker en ek kan nie veel sien nie. Sy maak die deur saggies agter ons toe en loop na die kombuis. Ek volg. Die vertek is warm en ruik na gemaalde koffie. Sy beduie na ˈn stoel langs die groot houttafel. Ek gaan sit. Onsamehangend begin ek vertel wie ek is, hoe ek hier beland het en vra of sy weet van n gastehuis waar ek kan oornag, dat ek nie eintlik eers weet waar ek is nie. Dit lyk egter nie of sy my hoor nie. ‘n Ekstra koppie word van die rak afgehaal. Voordat ek nog kan keer en verduidelik dat die koffie my gaan wakkerhou, skink sy en skuif die melkbekertjie nader. Ek sluk die bitter koffie.
Sy neem oorkant my plaas en tel haar koppie op. Aan die vlekkies op die rugkant van haar fyn hande kan ek sien dat sy ouer is as wat ek aanvanklik gedink het. Sy moes ‘n mooi jong vrou gewees het. Haar grys hare hang in ‘n lang vlegsel teen haar rug af. Weer glimlag sy en ons drink die koffie in stilte klaar voordat sy opstaan en beduie dat ek moet saamkom.
Daar is min lig in die huis; ek kan nie die gesigte op die portrette teen die mure uitmaak nie. ‘n Deur kraak liggies wanneer sy dit oopstoot. Gastekamer? Op die wastafel voor die venster is ‘n skottel met water, ‘n handdoek en seep. Dit lyk of sy verwag het dat iemand gaan oorbly. My bagasie is nog in die kar, maar ek is te moeg om dit te gaan haal. Wanneer ek omdraai, is die kamer leeg en die deur toegetrek. Die water waarin ek my gesig en hande afspoel, is yskoud. Ek kyk in die netjiese kamer rond. Vars, spierwit linne oor die bed, ‘n lampie wat flouerig skyn, ‘n kas, die wastafel en ‘n stoel. Die gordyne is ‘n vreemde skakering van blou; dis dieselfde blou as die vrou se oë. Ek gaan lê op die sagte bed. Wanneer ek wakkerskrik van geluide vanuit die kombuis, weet ek nie hoe lank ek geslaap het nie. Buite is dit stikdonker.
In die kombuis kyk ek dankbaar na die sop, brood en botter op die tafel. Ek is honger. Die vrou staan by die wasbak en kyk nie om wanneer ek inkom nie. Met haar rug na my, staar sy by die ruit uit, die dik donkerte in. Sy lig haar hand en raak aan haar wang. Die ruit reflekteer haar gesig: sagte oë, dalk hartseer, mond effens oop asof sy besig was om iets te sê. Ek gaan langs haar staan. Ek sien my eie gesig se weerkaatsing. Een donker venster. Twee vroue wat kyk, maar nie weet wat die ander sien nie. Sy word opeens bewus van my wat langs haar staan, glimlag en gaan sit by die tafel aan. Haar kop buig vooroor en ek weet sy vra seën oor die beskeie ete. Verleë buig ek oor die bord met sop. Die brood waarvan sy afsny en vir my aangee, is nog warm. Ek wil haar bedank, maar woorde is oorbodig in die stil kombuis.
Na ete help ek met die opwas. Keer op keer betrap ek myself dat ek opkyk om na haar gesig se weerkaatsing te kyk, maar sy bly besig met die skottelgoed. Ek kyk dan maar na myself. My gesig lyk stroef. Oë moeg. Langpad-moeg. My hare is vaal. Langpad-vaal. Hoe moet ek nie vir die stil vrou lyk nie. Eers toe sy die lappie uit my hande neem besef ek dat ek skaars gehelp het. Hoe lank het ek net daar gestaan?
In die sitkamer gaan sit sy op ‘n riempiesbank en tel haar hekelwerk op. Teen die mure is rakke en rakke vol boeke, die meeste waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ek merk ook ˈn rak met kinderboeke. Die vraag by net ‘n gedagte toe ek agterkom dat sy my dophou. Sy staan op en haal ‘n verweerde boek uit een van die rakke. Sy plaas die boek in my hande sonder om na my te kyk, gaan sit en hekel verder. Die boek is onbekend en ek begin nuuskierig daarin lees, maar na slegs ‘n paar bladsye raak my oë swaar. Met ˈn gaap staan ek op en loop deur toe met die doel om my bagasie te gaan haal. Slaap is naby en ek wil darem my tande borsel.
Ek steek vas op die stoep. Dis ‘n donker nag. Iewers bokant my moet die maan wees, maar ek sien dit nie. In die lig vanuit die voorkamer sien ek ˈn stoel in die hoek. Die kussing is sag en diep maar koud, en ek trek my trui stywer om my skouers. Ek sit gemaklik terug, bagasie vergete, en ek begin luister. Ek hoor die wind in die olienhout saggies gesels. Krieke en paddas veraf. Ander naggeluide wat ek nie ken nie. Ek sit. En ek luister. Na my eie asemhaling hier in die stoel, op die stoep. Dan word dit stil. Om my en in my. En dis ˈn stilte wat ver strek. Verby die tuin. Verby die straat en die grondpad, dorp uit. Verby die grootpad. Verby alles. En al wat ek kan doen is luister.
Die lig in die voorkamer gaan dood en die vrou loop stadig na haar kamer. Dis die einde van nog ‘n dag vir haar, hier op die dorp waar stilte begin het.
Steeds sit ek, sonder om die koue aan my wange my te voel; sonder om die maan te sien verbykom. Die stilte word nog stiller. ‘n Leeftyd later staan ek uit die stoel op, maak die voordeur oop en gaan na die kamer waar ek moes slaap. Ek trek versigtig die gordyne oop. Die nag is nog donker, maar nie meer vir lank nie. Ek sien weer my weerkaatsing, hierdie keer in die kamervenster. Dis nie nodig om my gesig met die koue water te spoel nie. My oë is oop en my hare blink. Ek is uitgerus.
‘n Rukkie later, toe die dag al amper breek, sit ek en die vrou teenoor mekaar in die warm kombuis. Die koffie is vars en heerlik bitter. Sy maak ˈn flessie daarmee vol en sit dit saam met ‘n paar toebroodjies in die klein mandjie op die tafel voor haar. Onderin is ook ‘n ou, verweerde boek met ‘n gehekelde kruisie tussen die blaaie, maar dit sal ek eers later vind. Dis tyd om te ry. Die vrou stap saam met my na buite, bly by die tuinhekkie staan, kyk eers op na die groot boom met haar stil, blou oë, en dan na my. Sy druk my hand vinnig, draai om en loop terug stoep toe.
Soos ek wegry sien ek hoe sy in die stoel gaan sit en haar trui stywer om haar skouers trek. Ek is weer op pad, maar die keer huis toe.
Intrepidly,